People

Van ‘vrot’ goed tot mooi goed

Van ‘vrot’ goed tot mooi goed

Adri Degenaar hou van ‘vrot goed’, soos sy dit noem, en sy het ‘n talent om dit in mooi goed te omskep, of dit in ‘n omgewing te plaas waar dit mooi goed word.

Adri is ‘n vrou van kontras. Statig, vroulik, en met ‘n voorliefde vir vloeiende Barok-skeppings wat sy self ontwerp, vervaardig en verkoop, maar sy is ewe tuis tussen ou verroeste kanne en stukke staal in ‘n skrootwerf waar sy ‘inkopies’ doen vir haar ‘shabby chic’ winkel.

Net ‘n klipgooi buite Brits op die Thabazimbipad, kruip haar unieke klein besigheid langs ‘n kanaal en tussen die groot bome weg. Baroq Creations en Rustic Crystal Yard is ‘n unieke en eksentrieke kombinasie van ‘n stylvolle boetiek en ‘n negosiewinkel propvol onverwagte skatte. Ou (baie oud) karwrakke en ‘n gedeelte van ‘n windpomp groet by die hek, terwyl Victoriaanse meubels met Indiese lampe en geroeste melkemmers in die winkel meeding. Dit word gekombineer met die boetiek vol elegante skeppings getooi met kant en fluweel.

Ek was altyd dol oor mooi klere en het van jongsaf my eie klere ontwerp

Adri, wat al ses suksesvolle sakeondernemings op die been gebring het, is landwyd bekend vir haar Barokstylklerereeks en die ‘shabby chic’ winkel het onlangs ‘n werklikheid geword. “Ek het nog altyd van vrot goed gehou wat op een of ander manier mooi goed word. My ma het altyd gesê ek is ‘n annerste kind. Ander dogtertjies se kamers was in pienk en pers getooi en myne was vol ou goedjies wat ek in die skrootwerf gekry het. Ek was mal oor die skrootwerf en het allerlei ou staal versamel,” lag sy.

“Maar ek was ook altyd dol oor mooi klere en het van jongsaf my eie klere ontwerp. My ma het dit gemaak. Die Barok-inslag was nog altyd daar. Ek is mal oor die era.”

Sowat 12 jaar gelede het die idee om haar eie klerereeks te begin, posgevat. “Mense het my voorgekeer en gevra waar ek my klere koop. Toe ‘n winkel my nader, moes ek smeek om my ma te oorreed dat ons kommersieel moet verkoop. Ek is met ‘n rak vol klere Irene-vlooimark toe en alles het uitverkoop. Dit was die begin.”

Sy glo ‘n vrou is gemaak om uit te staan. “Omdat ek ‘n groot vrou is, het ek aanvanklik klere ontwerp vir groter vroue om te wys daar is geen rede waarom ‘ons nie ook mooi kan lyk nie. Dit het egter so gewild geword dat ek vir alle groottes moes begin maak.”

 Adri en haar vennoot beplan om in Oktober ‘n Franse meubelreeks bekend te stel. “Ek moet altyd iets in die pyplyn hê. Ek raak gou verveeld met ‘n besigheid. Ek het al ses besighede begin en sodra dit ‘n sukses is, beweeg ek aan na die volgende een. Dit gebeur gewoonlik so elke ses jaar,” lag sy.

Maar die ‘plaaswinkel- en boetiek’ gaan bly. “Ek het aanvanklik net ‘n plekkie gesoek vir die klerefabriek, maar toe ek dié plasie sien, toe weet ek: dit is tyd vir iets nuuts. Toe ek die ou skuur sien wat kraak en afdop, het ek onmiddellik geweet wat om te doen. My ma was verstom toe ek sê ek gaan nie pleister en verf nie. Nog iets vrots wat mooi geword het,” lag sy.

Maak gerus ‘n draai by dié interessante kuierplek wat reeds ‘n ‘besienswaardigheid’ is.

Besoek Baroq Creations op facebook of kontak Adri by 082 565 2149.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.