People

Voluit vir die Lewe

Voluit vir die Lewe

Toe Laurika du Bois van Hartbeespoort onlangs genader is om ‘n mark in die dorp oor te neem, het sy nie ‘n oomblik gehuiwer nie. Dié dinamiese vrou het groot planne, en met verskeie toekennings en eerbewyse gedurende haar loopbaan in die skakelwese en bemarking agter haar naam, laat sy dinge op volspoed rondom haar gebeur.

Gebore in die omgewing van Beestekraal, “ek is ‘n meisie van die mispel en moepel, met my wortels diep geanker in die rooi grond,” is Laurika nou weer terug in haar grootwordwêreld na baie jare in die Kaap, waar sy nog heelwat belange het. Haar passie vir kos, wyn en mooi goed en haar ondervinding as entrepreneur kom haar beslis goed te pas in hierdie nuwe uitdaging.

“In my 15 jaar in die Kaap het ek heelwat geleer van markte. ‘n Mens kan egter nie ‘n metropool vergelyk met ‘n dorpsmark nie. Elke gebied het sy unieke verkoopspunte. Hierdie omgewing se boerderybedrywighede, kunstenaars en kreatiewe siele leen hom uitstekend tot ‘n dorpsmark,” vertel sy terwyl kleurvolle armbande klingel soos haar hande saamgesels.

As een van die stigterslede van die baie suksesvolle De Vette Mossel in Groot Brakrivier weet Laurika wat dit verg om ‘n onderneming te bestuur. Sy is opgewonde oor die sinergie wat reeds bestaan tussen die Harties Mark en die restaurant en bierkroeg wat op dieselfde perseel geleë is.

“My ideaal vir Harties Mark is dat dit ‘n gemeenskapskuier- en-bymekaarkomplek sal word, waar mense weekliks hulle vars en ander gehalte produkte sal kom koop. Sô sal werkskepping en gemeenskapsopheffing bevorder word.”  Sy gaan ook voort met die maandelikse ‘dogwalks’ saam met  dierewelsynsorganisasies en beplan  om saam met Parkrun te werk om ‘n veilige, mooi roete by die mark te ontwikkel.

Laurika se akademiese wortels lê in openbare betrekkinge, wat sy aan die destydse  Technikon Pretoria studeer het. As top student in die rigting is sy vir ‘n internskap aan die instansie gekies en sy het haar gou onderskei as ‘n uitblinker van formaat.

“En toe jeuk my voete en ek word ‘n lugwaardin by SAL. Dit was nog in die dae wat jy lank en oulik genoeg moes wees en keuring besonder streng was. Ek het meestal die Afrika-roetes gedoen, want van die ander personeel was te bang. Dis ook in dié tyd dat ek besef het die gasvryheidsbedryf trek my.”

Haar passie vir mense, openbare betrekkinge en onderrig het sy hierna uitgeleef in verskeie top poste aan tersiêre onderwysinstellings soos Medunsa, Unisa, Vista Universiteit, Damelin, die Boland Kollege en die IMM (Intitute for Marketing Management).

“Internasionale blootstelling by die instellings het vir my baie deure oopgemaak. Een van die grootste hoogtepunte van my lewe was toe ek gekies is vir ‘n maand lange leierskapsontwikkelingsprogram vir verteenwoordigers van Afrika by Harvard-universiteit. Hier staan ek, plaasmeisie van die Noordwes, in Harvard se biblioteek! Die ondervinding bly my by en het my wêreldvisie baie verbreed.”

Laurika praat Tswana, Sotho en Pedi, en al sê sy dit is bietjie verroes, gesels sy gemaklik met die kelner in sy taal in die koffiewinkel waar ons ontmoet.
“My dienstyd by die universiteite het my begrip gegee vir die probleme en uitdagings waarmee die ambisieuse jeug in die townships worstel en die nalatenskap van die politieke situasie in die land.”

Buiten die mark, is Laurika ook steeds die koördineerder en fasiliteerder van Transnet se Phelophepa gesondheidsorgtrein, waar sy uiting gee aan haar ander groot passies, gemeenskapswerk en primêre gesondheidsorg. “Primêre gesondheidsorg is krities. Dis ‘n groot voorreg om by die Transnet-projek betrokke te wees. Die trein bestaan uit 16 waens wat die land deurkruis en gesondheidsorg na arm gemeenskappe in  afgeleë gebiede te neem. Van die dienste waarmee gemiddeld 5 000 tot 7 000 pasiënte weekliks bedien word, sluit in tand- en oogsorg, sielkundige dienste en primêre gesondheid. Die projek is besonder bevredigend.”

Laurika het twee seuns uit haar eerste huwelik, wat soos hulle ma ook in hulle onderskeie beroepsrigtings uitblink. Sy blom weer na sy liefde gevind het op ‘n skoolreünie in Brits ‘n paar jaar gelede.  As haar vol program dit toelaat, lees sy graag en die uitvoerende sowel as beeldende kunste lê haar na aan die hart en sy loop nie graag een van haar seuns, ‘n dramaturg, se produksies, mis nie.
Vir meer inligting oor Harties Mark, besoek www.hartiesmark.co.za

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.