People

Riaan toor met blomme

Riaan toor met blomme

Riaan de Jager is mal oor blomme en mense, wat ‘n wonderlike kombinasie is vir iemand wat ‘n graad in sielkunde het wat ‘n bloemiste en teetuin besit. Ons het met hom gaan gesels oor blomme, sy huis en lewensleuse.

Terwyl ander kindertjies in kleuterskole baljaar het, het Riaan de Jager onder die blommetafel in ‘n bloemistewinkel gespeel waar sy oom besig was om blomme te rangskik.

Riaan se ma was ook passievol oor blomme en het  ‘n blomwinkel  in Pretoria besit.  Hy het egter nie gedink blomme sou eendag ook sy lewenswyse wees nie.

Na skool het Riaan sielkunde en godsdiens studeer. Na sy studies, met  ‘n sielkundegraad agter sy aam en ook as volwaardige pastoor, het sy lewe egter ‘n ander rigting ingeslaan.

“Ek het nooit een van hierdie beroepe gevolg nie,” vertel hy met ‘n glimlag waar hy op sy selfgemaakte Annie Sloan stoel tussen die lowerweelde van sy tuin sit, “want toe besef ek dat blomme ook my passie is en dat ek met dit, waarmee ek groot geword het, wil voortgaan.”

Maar sy sielkunde- en pastorale agtergrond gebruik hy wel.

Op sy eie manier is Riaan tóg soms ‘n berader vir mense.

“Soms word ‘n kuier saam met ‘n kliënt sommer ‘n beradingsessie,” glimlag hy.

“As hulle hier uitstap het hulle dalk niks gekoop nie, maar dan was ons gesels so goed soos ‘n sessie by ‘n sielkundige en is daar sommer twee vlieë met een klap doodgeslaan.”

Riaan is in Brits gebore, en hoewel hy ‘n groot deel van sy lewe in Pretoria deurgebring het, het hy later na sy tuisdorp teruggekeer en hy is nou reeds 25 jaar in dié en ander dorpe, bekend vir sy pragtige blomme, teetuin en geskenkwinkel.

Hy is reeds 12 jaar by sy huidige perseel, Heide bloemiste en teetuin, en die liefde, moeite en toewyding in dié klein paradys, waar hy ook woon, is duidelik.

Om die winkel en teetuin se sukses te verseker, is Riaan en sy span reeds vroeg aan die gang.  Douvoordag, drie keer per week, ry hulle mark toe in Johannesburg om op blomme te bie.

“Baie mense besef nie dat mens op blomme bie nie. Die publiek dink jy gaan net mark toe en koop al die bosse blomme waarvan jy hou, maar dit is glad nie die geval nie.”

Hy verskaf blomme aan 13 supermarkte in Pretoria en rangskik ook vir troues, begrafnisse, dope en ander geleenthede.

Sy gunstelling blom? “O defnitief ‘n blou Delphinium”.

“Mens hoef nie altyd ‘n bos blomme in jou huis te hê nie,” sê Riaan.  “Net een pragtige blom is ‘n mooi fokuspunt.”  Riaan sê dat daar vir hom niks lekkerder is as om iemand se hart bly te maak nie.

“Partykeer  vergeet mens wat jou doel in die lewe is, en dan gee jy vir iemand ‘n bos blomme en sien die blydskap op sy of haar  gesig – dit is alles.”

Riaan beskryf homself as ‘n kunstige, nie-konformis en sê hy is defnitief  ‘n ou siel.  En sy lewensleuse is: “leef ‘n ding dood.”

“Elke plek het ‘n gister, ‘n vandag en ‘n môre.  Heide is gister, vandag en môre.  Heide is deurmekaar, ‘n ongeordende gestruktureerdheid van stylvolle kitch.  Dit is hier waar naïewe kreatiwiteit, waagmoed en speelsheid ‘n plek vind. ‘n Plek wat toor met blomme, kos, meubels, geskenke en net opgesom word as anders. Ervaar Heide vandag, beleef iets van gister want môre … môre is dit heel anders.”  – Dit is Riaan se leuse agter op die teetuin se spyskaart.
So, kom beleef dié klein paradys!
Kontak Riaan by 012 252 4454.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.