People

Familie, geloof en liefde

Familie, geloof en liefde

Die gewone jong mens kan nie wag om huis te verlaat en sy eie potjie te krap nie. Nie die Stoker-susters van Hartbeespoort nie … hulle weier om die nes te verlaat en het sommer sakeondernemings by hul ouerhuis begin om saam te bly.

Dit gaan oor lief-wees en familie-wees. “Ons het in ‘n huis grootgeword waar liefde, familie en ondersteuning die prioriteite is en ons is geleer om die kleinste geskille onmidellik op te los. Hoekom sal ons wil weggaan,” lag Vonmari, ‘n suksesvolle fotograaf wat haar ateljee en besigheid vanaf die familie se klein plasie in Hartbeespoort se pragtige natuur bestuur.

Vonmari (29), Mileen (26), Arina (31) en Adrie (32) het al vier, na hul studies, na die kleinhoewe teruggekeer en kantoor opgesit. En daar is nog twee susters! Annelie is ‘n forensiese rekenmeester wat elders werk en Esta studeer, maar albei bly ook steeds op die plasie!

Arina en Adrie bedryf die suksesvolle Plaasvoetjies Kleuterskool, Mileen is die bestuurder van die familie se opvoedkundige speelgoedmaatskappy en Vonmari is ‘n gesogte fotograaf, wat bekend is vir haar treffende atmosfeer-foto’s – alles onder een dak.

“Ons was van kleinsaf maats. As mens ses sussies het, en selfs in ‘n stadium een kamer gedeel het, kan mens nie anders as om maats te wees nie,” sê Adrie, die oudste suster wat ‘n gekwalifiseerde biokinetikus is, maar dié beroep verruil het om die kleuterskool te bedryf.
“Ons het in ‘n huis grootgeword waar ons geleer het ons moet mekaar ondersteun en as ons meningsverskille gehad het, moes ons dit vining uitsorteer, want ons is familie! Ons is van kleinsaf geleer om vir mekaar om te gee.”

“Ons het op die lekkerste manier moontlik grootgeword,” sê Vonmari. “Ons het van die skool af gekom en in die modder ge-foefieslide, boom geklim en perd gery. Ons het tussen diere en mense grootgeword en eintlik nie ander maats nodig gehad nie. Al waaroor ons eintlik gestry het was klere en skoene! Maar noudat ons ons eie huise en kaste het, is daar nie meer probleme nie,” lag sy.

“Ons het so ‘n liefdevolle huis gehad. Ek dink nie ons het besef hoe bevoorreg ons was nie.”

En hoewel hul pa moes boontstaan met ses dogters se kêrels, het hulle nooit in mekaar se slaai gekrap nie. “Ons het maar by ons ouderdomsgroepe gehou. Kan jy jou voorstel as ons dit nie gedoen het nie.”

Terwyl die ander sussies babbel, luister Mileen net met ‘n glimlag. Sy is die sagte een, stem al die sussies saam. “Sy is die liefie-sussie en so presies,” sê Vonmari. Mileen lag. “Ja ek is ‘n struktuurmens. Ek hou van roetine en is baie besig. Ek doen iets van alles, maar ek is hoofsaaklik verantwoordelik vir die logistiek en kliënte in die speelgoedbesigheid.

Ook dié sussie se loopbaan het ‘n ander rigting ingestuur. “Ek het verbruikerstudie studeer, maar teruggekom plaas toe om met my ma se opvoedkundige speelgoedbesigheid te help en ek is mal daaroor. Ek gebruik tog eintlik my studies,” sê sy.

“Ek dink ons is nog almal hier omdat ons nog steeds onder een vlerk wil wees. Ons is ses sussies, ons het altyd vriende gehad,” trek sy haar skouers op.

Arina, wat die kleuterskool-juffrou is, is al een wat haar studierigting gevolg het. “Sedert ek kon onthou, wou ek ‘n onderwyser word, met ‘n dominee trou en baie kinders hê. Ek is amper daar. Ek gee skool, ek het ‘n dominee and al drie kinders…,” lag sy.

“Ek dink die geheim agter ons saamwerk en vriendskap is dat ons die klein jakkalsies dadelik uitsorteer.”
En wat dink hulle mans van dié nou band?

“So elke nou en dan word daar spottenderwys gepraat van die susters wat so aan die rokspante vas is… maar hulle kuier net so lekker saam!”

En die verskillende besighede komplementeer mekaar. “En besigheid bly besigheid. Ons skei beslis familie en besigheid. As Vonmari vir my foto’s by die skool moet neem, betaal ek haar,” sê Adrie.

Die hele familie werk jaarliks saam aan hul Klein Voete Expo wat eersdaags weer aangebied word.
“Daar is nie beter vriende as sussies en ‘n ma nie,” sê Adri.

En wat sê die klomp sussies se ma, Yvonne? “Ek dink familie is vir ons almal te belangrik om verskille te hê. Ek sal my eie voorkeure tweede stel vir my familie. En ek dink almal voel so.”

Vonmari som dit mooi op: “Die drie belangrikste dinge in ons lewens is familie, geloof en liefde –  dit is die geheim!”

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.