People

Jasmyn se klein rykdomme

Jasmyn se klein rykdomme

Dit is die klein rykdomme in die lewe wat dit ‘n lekker plek maak – varsgebakte brood, ‘n koppie goeie koffie, blomme wat jou asem wegslaan en die blinkrooi wange van ‘n varsgeplukte appel….

Die klein rykdomme is wat Jasmyn Pretorius se lewe laat draai. En op net 28 het sy al groot draaie dwarsoor die land gegooi. Sy was al fotograaf en grafiese ontwerper vir groot advertensiemaatskappye, het as fotograaf saam met musiekgroepe rondgetoer vir die Rolling Stone tydskrif, as ontwerper en kunsdirekteur gewerk, haar eie fotografiebesigheid op die been gebring… en nou gaan sy ‘die mees eksklusiewe mark in die land’ op die familie se geskiedkundige plaas in Broederstroom by Hartbeespoort open.

“Voor ek verlede jaar besluit het om terug te kom na die familieplaas toe, het ek visoene gehad om ‘n kunsdirekteur in Melbourne in Australië te word,” lag sy.     “Ek het gebid hieroor en toe sê die Here ek moet terug plaas toe! Hy het deure oop en toe gemaak en hier is ek en ek werk hard om die beste mark in die land in September bekend te stel.”

En dié sprankelende, vol-lus-vir-die-lewe jong vrou, het nie ‘n greintjie twyfel dat sy dit gaan regkry nie. Sy is ‘n afstammeling van die bekende boerekryger, Andries Pretorius, en die gesin woon almal steeds op die plaas wat Pretorius 200 jaar gelede vir ‘n geweer, ‘n perd en ‘n vers van President Paul Kruger geruil het.

“Ek is baie sentimenteel oor die grond en dit is net hier waar De Kleine Rijke Mark gaan wees.” Uit die aard van haar werk, het sy baie gereis en markte regoor die land gesien en beleef. “Daar is min eksklusiewe markte in die land en omdat ek ‘n visuele kunstenaar is, weet ek wat eksklusief is. Gedurende my reise het soveel mense leer ken wat mooi goed die wêreld in bring. Mense wat Kleine Rijke besoek, moet voel asof hulle ‘n ander wêreld betree – vol skatte!”

Befaamde meubelontwerper en -maker, David Krynauw, is reeds besig om unieke houtstrukture te ontwerp en te maak om by te dra tot die mark se eksklusiwiteit. En van die land se beste leerwerk sal hier vertoon word.

“En dan natuurlik die varsste organiese groente en vrugte, ‘free-range’ hoenders en eiers, Banting, glutenvrye produkte, blomme en die varsgebakte brood en goeie koffie. Dit gaan die ‘go-to’ plek wees!”

“Ek het ‘n vreeslike strewe na uitmuntendheid, alles moet uitstaande en pragtig wees – die moeite werd om sommer baie kilometers ver te ry. Ek hou daarvan om grense te breek en te inspireer, en dit is wat ek met die mark gaan doen.”

Jasmyn is ook ‘n passievolle fotograaf wat landwyd in aanvraag is. Haar atmosfeerryke foto’s vang oomblikke met ‘n storie vas. Die klein rykdomme in die lewe.

“Ek is waar ek moet wees, want alles werk uit. My motto in die lewe word presies deur die skrywer, Kurt Vonnegut beskryf: “We have to continually be jumping off cliffs and developing our wings on the way down.”

Hou Kleine Rijke se Facebook-blad dop vir nuus oor die mark wat September open.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.