KLEURVOLLE NEVILEEN

KLEURVOLLE NEVILEEN

‘n Ou eikehoutkassie op ‘n kruiwa, op pad na ‘n vuurmaakplek, was die begin van ‘n suksesvolle sakeonderneming vir ‘n werklose ma van Hartbeespoort.

‘nWeggooikassie het vir Nevileen Steyn (32) die deure oopgemaak na ‘n lewe vol kleur en kreatiwiteit en die ontwikkelling van ‘n unieke verfproduk wat doen-dit-jou-selfers gaande het.  Daar is niks wat Nevileen nie sal verf nie – enigiets van ‘n skoen tot ‘n stoelkussing en die eindproduk is ‘n kunswerk op sy eie.
Dié 32-jarige ma van twee bedryf deesdae ‘n suksesvolle sakeonderneming in Hartbeespoort waar sy haar eie verfproduk vervaardig en meubels restoureer en met verftegnieke versier. En dit slegs sowat vier jaar na haar man, Willen, met hul laaste R100 ‘n kassie by man, wat daarmee wou vuurmaak, gekoop het.
“O, ek was kwaad, min wetende dat daardie kassie die begin van my loopbaan was,” lag sy in haar kleurvolle winkel.
“My dogtertjie was ‘n pap baba en my man was werkloos as gevolg van die boubedryf wat ‘n insinking gehad het. Ek het ‘n bietjie geld probeer verdien met draadwerk. Ons het letterlik net R100 oorgehad vir die maand en toe kom hy huis toe met die ou kassie! Ek was woedend. Hy het my gepaai en oorreed om die kassie te verf en binne ‘n paar dae toe verkoop ons dit aanlyn vir amper R3 000. En toe vat hy van die geld en koop nog een!”
Nevileen het so te sê met ‘n verfkwas in die hand grootgeword. “Ek het van sesjarige ouderdom tekkies, lappe en enigiets waarop ek kon, geverf. Ek het selfs vir ekstra geld op skool vir maats T-hemde geverf. Na die kassie se suksesvolle verkope en ‘n paar meubelstukke wat daarop gevolg het, het sy en Willem besluit hulle kan ‘n lewe hieruit maak. “Ek het verftegnieke geverf nog lank voor daar iets soos ‘chalk’ verf was. Ek het met allerlei verwe geëksperimenteer en toe ‘chalk’ sy opwagting maak, het ek dit aanvanklik gebruik, maar was nie heeltemal tevrede met die resultate nie en dit was te duur. En toe wonder ek of ek nie my eie verf kan maak nie.”
Na sowat twee jaar se eksperimentering en baie verfhale later, het Nevileen onlangs haar produk op die mark geplaas en dit vlieg van die rakke af. En die verf se naam sê alles – Zhoozsh! Dit zhoozsh enigiets op. Mens kan letterlik op enige oppervlak verf, sonder te veel voorbereiding. Selfs jou yskas en sitkamerstel is ideale kandidate vir dié verf. En die kleure is ‘n fees vir die oog.
“Kan jy jou ‘n lekkerder werk voorstel? Ek werk met kleur en mooi meubels en mense met dieselfde belangstelling. Ek is geseënd.”
En sy en Willem spandeer sommer gehalte tyd saam wanneer hulle meubels opkikker. “As die kinders in die bed is, gooi ek vir ons ‘n glas rooiwyn en verf. Hy is my beste kritikus. Soms vererg ek my, maar hy is altyd reg,” trek sy skouers op. “Ek is regtig op my gelukkigste as ons saam verf.”
Namate haar verf en meubelwerk gewild geword het, het sy raad en tegnieke begin deel en skielik besef sy hou daarvan en die volgende stap was verftegniekklasse. “Ek is dol daaroor om mense te leer en my ondervinding en selfs geheime te deel.”
En haar werkswinkels is net so gewild soos haar verf. Boonop het Willem nou ‘n houtwerkbesigheid en maak tafels.
Een van my gunsteling gesegdes deur ‘n baie slim iemand is: “If you want to be an overnight success, be prepared to work late nights!”

Haar beker loop oor, sê sy. ‘n Beker vol kleur en kreatiwiteit!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.