People

Die lang man met die rasperstem

Die lang man met die rasperstem

Op ‘n koue wintersoggend sit Dozi hemploos voor ‘n kaggelvuur in sy sitkamer. Ou kitare hang aan die muur. ‘n Handgemaakte Mervyn Davis-kitaar lê op die rusbank. “My gunsteling”, sê die rasperstem.

Jy is nie seker of hy van die kitaar of die rusbank praat nie. Gebore Henk Opperman, het hy die bynaam Dozi op universiteit gekry oor sy gunsteling voorliefde – om te slaap. “Ek het nou net klaar gegym en moet net gou gaan stort.” Na ‘n ruk buk die lang skraal man om by die deur in te kom, vars gewas en die keer darem met ‘n hemp aan. ‘n Paar amps word eenkant geskuif om plek te maak vir koffie.

“Ek kan nie onthou waar kom my liefde vir musiek vandaan nie. As die ander laaities op die plaas met karretjies gespeel het, het ek met ‘n Castrol-blikkitaar deur die mielielande gestap en musiek gemaak. Die ander laaities wou dinge soos prokureurs en dokters word. Ek wou altyd ‘n musikant word.” Dozi se lang kitaarvingers is onrustig – vou om ‘n koffiebeker, skuif weer ‘n klein amp rond, streel oor die Davis-kitaar. “Ek het so ‘n week opgehou rook. Net so. Pakkie sigarette by die kar se venster uitgemoer. Cold turkey.” Jy wonder hoe die rasperstem sonder ‘n laag nikotien gaan klink?

“Bru, jy ken my ook al lankal. Lake Hotel se dae. Ek het nie met “Ou ryperd”, soos baie mense dink, begin nie. My Zoeloe-gospel kom al van lank af. Ek was so 16 jaar oud toe ek daarmee begin het.” Dozi, die jongste kind van Teuns en Susan Opperman, is in Hluhluwe gebore en het saam met sy Zoeloevriende in Natal grootgeword. “Ek is mal oor die taal, baie lekkerder om my stories daarin te vertel as in Afrikaans of Engels.” Dit was eers na die Zoeloe-album datdie Afrikaanse songs begin het. “Die mark was net reg daarvoor. Ek is nie ‘n goeie besigheidsmens nie. Ek is eerder ‘n musiekentrepreneur.”

Ek is nou op ‘n baie gelukkige plek. Ek het die beste van twee wêrelde …

Dozi het ‘n paar jaar gelede “Back to the Roots”, die gewilde musiekvenue, op sy plaas teen die hange van die Magaliesberg begin. “Ander musikante moet met ‘n prokureur of dokter trou om aan die lewe te kan bly. Ek is gelukkig, ek het “Roots.” Dozi het onlangs sy nuwe venue “Back to the Blues” begin. “Dit was ‘n lewenslange droom om ‘n Blues-bar te hê. Ek is nou op ‘n baie gelukkige plek. Ek het die beste van twee wêrelde met die meer kommersiële “Roots” aan die een kant en die “Blues Bar” aan die ander kant. En om alles te kroon het ek my klankateljee reg in die middel.”

Onttrekkingsimptome begin weer pla. Die lang lyf staan weer op, stap met ‘n leë koffie koppie kombuis toe. Kom terug en gooi nog hout op die kaggelvuur. Die Davis-kitaar kry ‘n nuwe lêplek op die rusbank. Dozi plons weer neer. Mense stap heeltyd in en uit. Daar word musiek gepraat. Veral oor blues. “Die blues kom al lankal, van die Lake Hotel se dae af. Daai dae was B.B. King en Gary Moore maar nog vreemdelinge in Hartbeespoort se musieksmaak.

Die formele onderhoud is al lankal verby. Daar word musiek gepraat. Blues. “Daar is ‘n lewe na Brian Adams. Blues is huge.” Dozy se lang onttrekkingsvingers vat vat aan die Davis-kitaar. Net na tien in die oggend en die wintersdag op Dozi se plaas is reeds vol Blues. Iewers brom ‘n bestuurder dat Dozi moet begin klaarmaak. Hy het ‘n show in Kriel. Jy wonder oor die Blues by die kragstasies. Jy vermoed ook dat Dozi laat gaan wees.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.