People

Op pad na die kruin

Op pad na die kruin

Thomas van Tonder se vinnige opgang in die hindernisbaanwedloop-wêreld is merkwaardig. Dié 26-jarige atleet het in minder as vyf jaar uitgestyg as die top atleet in dié vinnig-groeiende sport. En nou mik hy vir die wêreldkroon.

Thomas,  jy is ‘n suksesvolle, professionele hindernisbaan wedloopatleet.
Wat is hindernisbaanwedlope (OCR) en hoe het jy daarby betrokke geraak?

Hindernisbaanwedlope, of “OCR” (Obstacle Course racing) is ‘n kombinasie van hardloop met hindernisse versprei deur die hardloop roete. Die hindernisse kan enige iets van tou klim tot die dra van ‘n sandsak wees. Die modderhindernis, waar jy deur taai modder moet kruip, is ‘n baie bekende hindernis. My eerste OCR-wedloop was in 2013 saam met vriende van my skopboksklub. Ek het eintlik net vir die grap vir die 5km ‘rookie’-wedloop in die Warrior Race ingeskryf. Ek het dit vreeslik geniet en het besluit om kompeterend aan die volgende wedloop deel te neem. En toe eindig ek tweede van al die kategorië, en dit na ek 10 minute later as die ander deelnemers weggespring het. Op daardie oomblik het ek besef dat ek die potensiaal het om in dié sport te presteer. Dit is nou amper vyf jaar later en ek kan nie glo hoeveel vordering ek in dié tydperk gemaak het nie.

Hoe het dit gevoel om as Suid-Afrikaanse OCR-kampioen op die podium te staan?
Dit is vir my ‘n ongelooflike groot voorreg om dié titel agter my naam te kan skryf. Dit maak al die lang ure van voorbereiding en opofferings die moeite werd. Suid-Afrika het baie talentvolle atlete wat aan OCR deelneem en die SA kampioen titel het daarom vir my soveel meer betekenis.

Waaraan skryf jy jou vinnige opgang toe?
Ek dink nie ek kan slegs een ding uitsonder wat dit moontlik gemaak het nie. Dit is ongetwyfeld ‘n kombinasie van passie, aanhoudende harde werk, opoffering en ondersteuning.
Ek was wel geseënd dat ek geen ernstige beserings die afgelope vier jaar opgedoen het nie, wat beteken dat ek deurentyd voluit aan my droom kon werk. En die resultate wys. Ek het al 17 Warrior Black Ops ELITE-titels en was die afgelope drie jaar in die top 10 by die wêreld OCR-kampioenskappe.

Kan jy ‘n bestaan maak as ‘n voltydse OCR-atleet?
Ek het vir drie jaar voltyds gewerk en deelgeneem, wat beteken het dat ek baie vroeg moes opstaan om te oefen en laat gaan slaap het. Ek het vanjaar die sprong gevat om voltyds ‘n OCR-atleet te wees. Tans kan ek ‘n bestaan maak. Ek maak staat op my borge en wen geld van byeenkomste. Vir my is dit definitief die moeite werd om die kans te vat en my drome te jaag.

Hoe hard oefen jy? Wat behels ‘n tipiese dag?
Ek staan elke oggend 05:00 op en smul aan lekker warm koffie met tuisgebakte beskuit, terwyl ek my dag met Bybelstudie begin.
Ek oefen gemiddeld 10 – 16 ure per week. Ek sal altyd probeer om my oefen sessie vroeg die oggend in te pas, en het al keer op keer gesien dat van uitstel kom afstel… Oefen is enigiets van ‘n berg hardlooproete tot kajak op die dam. Wat dié sport so lekker maak is dat mens ‘n verskeidenheid oefeninge kan doen wat alles van toepassing sal wees op die sport.
Party dae sal ek twee oefen sessies per dag inpas, maar dit is dan gefokus op twee verskillende dissiplines soos hardloop en gimnasiumoefeninge. Ek sal altyd ‘n harde oefendag opvolg met n rustige een.
Ek maak seker dat ek goed eet. Vroeg slaap is vir my belangrik, ek is gewoonlik tussen 8 en 9 in die bed om my liggaam kans te gee om te kan herstel.

Waarop fokus jy tans? Is daar enige groot kompetisies op die horison?
Op die oomblik is al die fokus op die OCR Wereld Kampioenskappe , wat van 19 tot 21 Oktober plaasvind. Dit word in Londen gehou. Dit is wel ‘n groot hardloopresies, so ek sal definitief meer fokus op my hardloop die volgende 2 maande

Wat motiveer jou?
Ek het ‘n droom om eendag by die wêreldkampioenskappe op die podium te staan. Ek glo sport is een van die min aktiwiteite waar dit regverdig aandui hoe hard jy gewerk het. Dit wat jy self ingesit het is wat jy gaan uithaal. Almal is op dieselfde vlak, maak nie saak wat jou agtergrond of inkomste is nie.

Watter opofferings moes jy al maak om te kom waar jy nou is?
Opoffering is een van die noodsaaklikhede van atleet wees. Die eerste opoffering waaraan ek dink is alkohol en laat aande saam met vriende. Dit werk glad nie saam met ‘n ernstige oefenprogram nie.
Ek beperk alle suiker tot ‘n minimum en ons almal weet dit is nie‘n maklike een nie. Die byeenkomste is gedurende naweke en ek mis dikwels familietyd.

Wat doen jy as jy nie op hindernisbane rondhardloop nie?
As ek nie oefen of deelneem nie kyk ek dié sport op televisie, of luister daarna op ‘n potgooi. Ek is ‘n deeltydse fotograaf en doen ook aanlyn afrigting deur my eiemaatskappy “WarriorFit”. Die buitelig is steeds vir my lekker, ek en my verloofde is baie lief vir staproetes. Dan skilder ek ook graag as ek kans kry, en lees.

En toekomsdrome?
My grootste droom is die podium by die wêreldkampioenskappe. Dit is waarna ek mik.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.