People

Glanspaartjie

Glanspaartjie

Pierre and Pauli van Niekerk het geen bekendstelling in die vermaaklikheidswêreld nodig nie. Dié twee bekroonde sangers en liedjieskrywers het reeds hulle merk gemaak, en deesdae gebruik hulle hul ondervinding om talent onder die jeug te bevorder en ‘n liefde vir kuns en kultuur te kweek.

Die uitvoerende kunste is dié egpaar se lewe. Dit is ‘n leefwyse, ‘n passie en hul entoesiasme is aansteeklik.
“Hoewel ons dol is daaroor om self op die verhoog te wees, het ons so 13 jaar gelede besluit om nie meer voltyds op te tree. Die kinders wou nie meer in die sleutelbordsak slaap nie en toe ons derde een opdaag, het ons besef ons moet meer vastigheid kry,” sê Pierre. “Ja, as mens vergeet jou kind lê in die kleedkamer in die Staatsteater en slaap, is dit tyd om by die huis te bly,” lag Pauli. “Soos Laurika Rauch gesê het: Die verhoog is ‘n moeisame minnaar.”

Die twee het in Hartbeespoort op ‘n pragtige klein landbouhoewe kom nesskop en met mening begin om talent in die omgewing te soek en te ontwikkel.
“Ons het ‘n wonderlike beroep. Ons ontdek talent, en ons wag nie dat dit na ons toe kom nie, ons oë en ore is die heeltyd oop en mens vind dit soms op die mees onverwagte plekke” sê die twee mense wat hul gawes en uitgebreide kennis van die uitvoerende kunste met oorgawe deel. Soos die graad 1-dogtertjie wat hulle by ‘n plaaslike skool hoor sing het. Drie jaar later was sy ‘n finalis op SA’s Got Talent en kort daarna was sy saam met Yvonne Chaka-Chaka op die verhoog.

“Ons deel ‘n passie en as daar ‘n emosionele droogte is, hou ons konsert.”

Nog een van hulle suksesverhale is Lee Scott, bekende sanger en aanbieder van die televisieprogram Kliphard.
“Dit is so wonderlik om te sien hoe ‘n talent ontluik wat dalk verlore sou gaan. Dit is die beste gevoel ooit!”

Pierre en Pauli is een van daardie raar egpare wat weens hul gedeelde passie saam kan werk, droom en inspirasie vind in mekaar se entoesiasme. Hoe doen hulle dit?
“Ek dink dis my lyf,” lag Pierre. “Nee ernstig, musiek is ons albei se lewe en ons ken mekaar so goed dat Pauli my met ‘n glimlag op my plek kan sit!”

Pauli meen dit is hulle totale aanvaarding van mekaar. . “Ons gun mekaar om te wees wat ons is. Moenie dink dit was altyd maanskyn en rose nie, ons het albei sterk menings en het hard koppe gestamp in die begin, maar ons het besef dit is wie ons is en vir wie ons lief geword het.”

“Ons deel ‘n passie en as daar ‘n emosionele droogte is, hou ons ‘n konsert,” sê Pauli.
Die twee het in ‘n dramaklas by die Universiteit van Pretoria ontmoet en “ons het sommer dadelik begin vry,” lag Pauli. Albei musikante en liedjieskrywers in eie reg, het die twee hul talente saamgesnoer en begin optree. In 2001 was hulle die naaswenners in die ATKV se Crescendo-toekennings. Hulle is deur Shosoloza genader en toere na Europa het gevolg.

Hoewel hulle nog soms optree, konsentreer hulle nou op die ontwikkeling van talent, hul klankateljee en die musiekvideomark wat een van Pierre se passies is. Hy het die afgelope jare ook naam gemaak as foto- en videograaf.
En dan is daar hul koorakademie wat hulle by ‘n laerskool in Hartbeespoort op die been gebring het.
Dit is vir hulle belangrik om nie net talent te kweek nie, maar jong kunstenaars voor te berei vir ‘n lewe in die vermaaklikheidswêreld.

“Dit is harde werk en ons leer die jong kunstenaars om verby die glans en liggies te kyk. Dit is glad nie glamorous nie, mens werk jou alie af. Ja, op die verhoog is daar glamour en dit is amazing, maar as die gordyn sak, is jy alleen. Ons benadruk dit dat hulle moet vriende maak. Dis is so belangrik in die vermaaklikheidswêreld.”

Wat dryf hulle? “Daar is altyd iets meer… altyd iets wat my trek, die onbekende, die potensiaal van ‘n leë canvas. Mens kan so baie van so min maak,” sê Pierre.
En Pauli? “Ek wil meer gee. Ek het so baie gekry en ek wil net uitdeel.”
Dié twee kunstenaars komplementeer mekaar op byna alle gebiede. “Pauli is die realis wat vir niks bang is nie en sy maak my vry in ‘n wêreld vol eng strukture,” sê Pierre.
“Ons gun mekaar om te wees wat ons is,” sê Pauli.

Toekomsdrome is daar altyd. “Ek wil saam met my seun Alaska toe om ‘n dokumentêr oor pikkewyne te maak, en ek wil die mense van die Kalahari se storie vertel,” rammel Pierre af.
Pauli lag. “Ja, daar is altyd iets meer!”

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.